Thursday, June 5, 2014

GESIGVERF

Op ons kampe vir gestremde persone word daar lekker gespeel en pret-dinge gedoen waaraan almal kan deelneem. Een van hierdie aktiwiteite is gesigverf, maar jy verf nie jou eie gesig nie, iemand anders verf jou gesig vir jou, soos wat hy/sy jou wil laat lyk. Die beste van als is, jy weet nie hoe jy lyk nie, want jy kan nie jou eie gesig sonder 'n hulpmiddel sien nie. Jy vertoon dus iets wat iemand anders vir jou aangebring het. Terwyl die persoon besig is om aan jou kunswerk te werk, weet jy nie wat besig is om met jou te gebeur nie. Terwyl ek besig was om iemand anders se gesig te verf, het sy heeltyd gesê ek moet haar net nie mismaak nie. 

Nou ja, elke oggend, reg oor die wêreld, in badkamers, slaapkamers en selfs kombuise gebeur 'n soortgelyke ding. Hoofsaaklik op die snelweg, teen enigiets tussen 20 km/h en 120 km/h in 'n klein spieëltjie, is mense besig om hulle eie prentjies in te kleur. Sommer so terwyl 'n bordjie pap ge-eet word en op die foontjie gepraat word. Multi-tasking noem hulle dit. 

Die verskil is, die dame kleur haar eie prentjie in soos wat sy dit wil hê en skep dus iets waarvan sy self hou. Die plooitjies word sorgvuldig toegeverf en die mooiste “features” word noukeurig uitgelig. Sommige voel die verfies is nie nodig nie omdat hulle reeds met die nodige bloesende wangetjies en al gebore is. 

Nou vra ek vir jou, wie besluit hoe jy “lyk” in hierdie lewe? En vir wie laat jy toe om jou te verander in iets of iemand wie jy nie is nie? Nog meer, word jy verander in iemand anders as wat die Here jou bedoel het om te wees? 

In hierdie lewe is ons gedurig besig om deur ander mense getransformeer te word, teen ons sin. Ons karakters word verander deurdat ons toelaat dat ander mense ons gesigte verf. 

Spr 18 : 1-8
Die selfsugtige mens lewe net vir homself, hy verwerp alle oorlegpleging. Die dwaas stel nie belang in insig nie, hy wil net sy eie opinie bekend maak. Waar daar goddeloosheid kom, kom daar krenkende optrede, en saam met die belediging kom die skande. Die woorde van 'n mens kan diep waters wees, 'n bruisende stroom, 'n bron van wysheid. Dit is nie goed om partydig te wees vir die skuldige en om die onskuldige sy reg te ontsê nie. 'n Dwaas praat hom in 'n rusie in, hy soek slae met wat hy sê. 'n Dwaas se mond is sy ondergang, sy eie woorde is 'n dodelike strik. Skinderstories word gretig verslind; mense sluk dit so maklik.  

Krenkende optrede en beledigings skep mense se karakters . Dis soos gesigverf. Stadig maar seker plak ons laag op laag verf op, totdat die persoon lyk soos ons hulle wil hê, en dis baie selde 'n mooi gesig wat vorm. Mense se innerlike en uiterlike word mismaak deur ons woorde en optrede. Selfs om iemand minagtend aan te kyk, hulle te ignoreer of misken af te praat na ander of neer te sien op hulle is deel van hierdie aksie. 

Die grootste slagveld is binne die huwelik en in huishoudings. Woorde kan net so erg wees as om jou hand teen iemand te lig. Lees die stukkie met die titel: “Spieëltjie spieëltjie aan die wand” vir meer hiervan. Die gedagte hier is dat die man soos 'n spieël is waarin die vrou haarself sien. Hy reflekteer iets wat sy sien as sy na hom kyk, en hoe meer hy haar met negatiwiteit en afbrekende woorde bombardeer, hoe meer word haar gesig geverf om al die mooi toe te kry. Dus, vroulief word eventueel dit wat Meneer op haar laat neerreën. En ja, natuurlik gebeur dit net soveel na die ander kant toe. Wat sê die Bybel nou weer oor 'n vrou wat kyf? Iets soos water wat drup uit 'n dak....

Hoe mooier die woorde, hoe meer blom sy, hom leliker die woorde, hoe meer verlep sy. 

Mense se woorde plak soos gesigverf aan ander vas. Veral die dolksteke verander 'n karakter onherstelbaar.

Spr 18 : 21 “Die tong het mag oor lewe en dood...”

Mooi woorde is soos grimering wat deur 'n kenner aangewend word op 'n rolprentstel, waar die beste uit die persoon gehaal word. 

Wanneer laas het manlief of vroulief gehoor hulle lyk wonderlik? Sê dit, dan lyk sy sommer baie mooier en gelukkiger. 

Wil jy graag sien wat die Here van jou dink? Luister na die volgende tekse:

Sef 3 : 17  “Die Here jou God is by jou, Hy die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in Sy liefde, Hy jubel en juig oor jou”.

Hand 17:28b “...ons stam ook van Hom af”.

Ps 139:17 “Hoe wonderlik is U gedagtes vir my, o God”.

1 Joh 3:1 “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het. Hy noem ons kinders van God en ons is dit ook”.

Hierdie is die Here se gesigverf vir jou en my. Dis hoe Hy ons sien en dis wie en wat ons is. Ongeag van wat ander mense wil opplak op ons. Daarom moet ons nie bekommerd wees oor hoe ander mense ons sien, of graag wil sien nie; moenie toelaat dat ander jou karakter negatief verf nie. Mense doen dit juis om hulle eie swakhede en ontoereikendheid te verbloem. Hulle voel soms self lelik en onbemind, en probeer dan om ander ook so te laat lyk. 'n Slegte selfbeeld maak dat mense ander wil mismaak. Natuurlik dra die duiwel kwistig by tot hierdie praktyk en is self 'n uithaler skilder van drogbeelde. 

Maar die Here sien jou nie so nie en Hy wil nie hê dat ons daardie lelike gesigverf moet glo nie. Die Here sien dit in elk geval nie raak nie, want Hy sien deur dit alles. 

Wat, en wie glo jy? Kan jy voor die spieël staan en sê: sjoe, maar ek lyk goed? Jy mag maar!

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)

Wednesday, June 4, 2014

Hoe lyk jou verhouding met Jesus?

There are many truths of which the full meaning cannot be realized until personal experience has brought it home.” Dis blykbaar iets wat ene John Stuart Mill gesê het. Na my mening geld dit ook vir ons verhouding met die Here. Iemand wat nie persoonlike ervaring daarvan het nie, sal nie kan verstaan hoe jy geloof en vertroue kan hê in ’n onsigbare God nie. Iemand wat dit nié het nie, sal nie kan verstaan hoe jy tevrede en gelukkig kan wees ten spyte van probleme om jou nie. Iemand wat dit nié het nie, sal nie kan verstaan dat jy die Bybel as jou kompas en padkaart gebruik en alles glo wat daarin staan nie. Iemand wat dit nié het nie, sal nie kan verstaan dat jy sterk kan wees wanneer almal swak is en paniekerig raak nie. Niemand kan stry met jou persoonlike ervaring en getuienis nie! “Kom ondervind en sien sélf dat die Here goed is.” (Ps. 34:9)

Die Seën en gawes van Bo

U maak U hand oop en skenk U guns in oorvloed aan al wat leef.” (Ps. 145:16) In die Here se hand is alles wat ek nodig het, alles wat my staande kan laat bly, alles wat my geluk, hoop en vrede kan gee. Hy wil ons seën vandag en Hy sal Sy hand oopmaak en goedheid en genade oor jou uitstort. “Die Here dink aan ons: Hy seën ... Hy seën dié wat Hom dien, klein en groot.” Ek maak vandag my arms en my hart wyd oop om elke seëning van Hom af te ontvang.

Tuesday, June 3, 2014

Soos n Wildsbokkie

Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God.” (Ps. 42:2-3) As mens honger is na iets, as jy iets baie graag wil hê, as jy ’n “craving” het na iets, dan oorheers dit jou gedagtes en maak jy allerlei planne om daai begeerte te bevredig. Op dieselfde manier behoort ons ’n hunkering en smagting na die Here te hê. Soos wat ’n dorstige persoon in die woestyn net begaan is daaroor om water in die hande te kry, behoort ons alles in die stryd te werp om die Here “in die hande te kry”, om meer van Hom te weet, om ’n dieper belewenis van Sy teenwoordigheid te hê. Wees honger daarvoor om Hóm die eerste en belangrikste plek in jou gedagtes, begeertes, planne en keuses te maak.

Dankie Here dat U my vandag gedra het

Hy het hulle verlos deur sy liefde en ontferming; Hy het hulle opgetel en hulle altyd gedra.” (Jes. 63:9) Sjoe, dis darem maar mooi woorde om te hoor. Dis wat die Here vir Sy volk gedoen het, keer op keer. Dis wat Hy nog altyd vir Sy kinders gedoen het. Dis wat Hy ook weer vandag en môre vir my en jou sal doen. Glo dit! Onthou dit! Bely dit! Verkondig dit! Sing ’n lied daaroor! Prys Hom daarvoor!


Monday, June 2, 2014

Laat ek U vandag vind asseblief Here

“Ek wil die Here loof. Met alles in my wil ek die Here se grootheid prys.” (Ps. 103:1) Dit is mos sommer ’n natuurlike ingesteldheid by ons om die Here te wil dank en prys vir alles wat Hy vir ons gee, vir alles wat so mooi uitwerk in ons lewens, vir al die geskenke wat ons so mildelik uit Sy hand ontvang. Wanneer dinge egter nie so voorspoedig loop nie en ons steeds in finansiële moeilikheid is, of nog steeds siek bly, steeds nie ’n werk kry nie, steeds in ’n donker tonnel inkyk, steeds hierdie berge uitdagings voor ons sien,  steeds geen voelbare seën beleef nie, dan moet ons met ’n bo-natuurlike ingesteldheid uitbars in lofprysing. So ’n lofprysing is ’n teken van geloofsvertroue, van ’n sekere wete dat God wel sal voorsien, dat daar wel ’n uitkoms sal wees, dat Hy wel in beheer is. Dan kan ons soos Habakuk sing: “... nogtans sal ek in my Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” (Hab. 3:18)